Victoria | |
---|---|
Koningin van die Verenigde Koninkryk; Keiserin van Indië | |
Koningin Victoria met haar goue jubileum.
| |
Vorstehuis | Hannover |
Titels | HM die Koningin HKH Prinses Victoria van Kent |
Regeer | 20 Junie 1837– 22 Januarie 1901 |
Kroning | 28 Junie 1838 |
Voorganger | William IV |
Opvolger | Edward VII |
Volle naam | Alexandrina Victoria |
Gebore | 24 Mei 1819; Kensington-paleis, Londen |
Oorlede | 22 Januarie 1901; Osborne House, die Eiland Wight |
Begrawe | 2 Februarie 1901; Frogmore, Windsor |
Eggenoot | Albert van Sakse-Koburg en Gotha |
Kinders | Prinses Victoria, keiserin van Duitsland Edward VII Prinses Alice, Groothertogin van Hesse Alfred, Hertog van Sakse-Koburg en Gotha Helena, prinses Christiaan van Sleeswyk-Holstein Prinses Louise, Hertogin van Argyll Prins Arthur, Hertog van Connaught en Strathearn Prins Leopold, Hertog van Albany Beatrice, prinses Henry van Battenberg |
Vader | Prins Edward, die Hertog van Kent en Strathearn |
Moeder | Prinses Victoria van Sakse-Koburg-Saalfeld |
Handtekening |
Victoria (Alexandrina Victoria; 24 Mei 1819 – 22 Januarie 1901) was van 20 Junie 1837 koningin van die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland en van 1 Mei 1876 die eerste Keiserin van Indië van die Britse heerskappy tot met haar dood. Sy het 63 jaar en 7 maande regeer, langer as enige ander Britse monarg behalwe haar agter-agter-kleindogter Elizabeth II.[1][2]
Hoewel sy die troon bestyg het in ’n tyd toe die Verenigde Koninkryk reeds ’n gevestigde grondwetlike monargie was waarin die monarg min politieke mag gehad het en invloed uitgeoefen het met die raad van die eerste minister, was sy steeds ’n baie belangrike simboliese figuur van haar tyd. Die periode van haar bewind is bekend as die Victoriaanse tydperk, ’n era van nywerheids-, maatskaplike, ekonomiese, politieke, militêre en tegnologiese vooruitgang in die Verenigde Koninkryk.
Victoria, wat feitlik ten volle van Duitse afkoms was, was die dogter van prins Edward, die Hertog van Kent en prinses Victoria van Sakse-Koburg-Saalfeld; die kleindogter van George III en die broerskind van haar voorganger, William IV. Sy is opgevoed deur haar oom, wat later koning Leopold I van België geword het.
Sy het huwelike vir haar 9 kinders en 42 kleinkinders oor die hele Europa gereël; dit het haar die titel "ouma van Europa" besorg.[3] Sy was die laaste monarg van die Huis van Hannover; haar seun koning Edward VII het tot die Huis van Sakse-Koburg en Gotha behoort.